
Die gewyde glaskuns van Leo Theron gee uitdrukking aan die sterk Europese inslag van sy estetiese benadering. Sy Afrikaanse, Protestantse agtergrond tesame met die Katolieke agtergrond van sy Franse leermeesters het bygedra tot die ontwikkeling van abstrakte, gewyde glaskuns, in die dalle de verre-medium, wat die spanning tussen die estetiese tradisies van die Katolieke en Protestantse Kerk op 'n subtiele wyse aanspreek. 'n Belangrike idee onder Europese Romantiese denkers, soos onderskeidelik deur Friedrich Hegel en Théophile Gautier vertolk, saam met die verwante en invloedryke Romantiese begrip van sinestesie, word in hierdie artikel gebruik om lig te werp op Theron se simboliese gebruik, vir die NG Kerk, van die dik, kristalagtige kleurglas van die dalle de verre-medium.
In hierdie intreerede vir die Leerstoel Suid-Afrika: Tale, Letterkundes, Kultuur en Samelewing aan die Universiteit Gent reflekteer die spreker oor sy musiekwetenskaplike werk binne 'n breër interdissiplinêre raamwerk, met besondere klem op klank as kultuurdraer. Die spreker argumenteer dat kultuur nie slegs deur geskrewe tekste of taal verstaan kan word nie, maar ook deur ourale en soniese praktyke wat sosiale ruimtes vorm. Aansluitend by Peter Sloterdijk se begrip van die fonotoop word klank voorgestel as 'n fundamentele dimensie van menslike samelewing: plekke "klink" soos hul inwoners, en hierdie klankruimtes funksioneer as ervarings van tuiste en selfbeskikking. Die spreker se navorsing fokus veral op Afrikaanse en Suid-Afrikaanse klankverskynsels, insluitend die soniese ordening van apartheid en die rol van musiek in identiteitsvorming. Deur voorbeelde soos boeremusiek en Die Stem van Suid-Afrika word aangetoon hoe musiek as herinneringsplek funksioneer waar nasionalisme, nostalgie, ironie en skuld in spanning verkeer. Hierdie klankvorme word nie as outentieke uitdrukkings van 'n vaste identiteit beskou nie, maar as dinamiese kulturele konstrukte wat histories en ideologies belaai is. 'n Sentrale tema van die rede is die epistemologiese waarde van die periferie. Die spreker voer aan dat kennisproduksie vanuit die Globale Suide en vanuit marginale kulturele verskynsels besondere seggenskrag het juis omdat dit risiko's inhou: esteties, eties en historiografies. Hierdie risiko word gesien as noodsaaklik vir oorspronklike en nie-epigoniese akademiese werk. Die rede sluit af met 'n pleidooi vir akademiese en artistieke moed, vir dissiplinêre ongehoorsaamheid, en vir 'n kritiese omgang met geskiedenis waarin klank as draer van herinnering, trauma en moontlikheid ernstig bejeën word.
Hierdie artikel fokus op Uys Krige se drama Magdalena Retief (1938)1 met verwysing na die volksmoederdiskoers van die 1930's, terwyl die drama ook teaterhistories gesitueer word. In 1938 vind die eeufees-herdenking van die Groot Trek plaas wat aanleiding gee tot 'n ongekende en landswye opwelling van Afrikanernasionalisme. Die onderskeie eeufeesvieringe kulmineer in Pretoria met die grondlegging van die Voortrekkermonument. Die uitbeelding van Magdalena Retief is geplaas binne die konteks van die volksmoederdiskoers - 'n diskoers wat aansluit by die ontstaan en ontwikkeling van Afrikanernasionalisme. Die rol van die Afrikanervrou, soos vergestalt deur Uys Krige se uitbeelding van Magdalena Retief, gee 'n historiese en dramatiese blik op 'n era waarin 'n patriargale uitgangspunt die genderverhou-dinge binne Afrikanergeledere getipeer het. Alhoewel verskeie Voortrekkerleiers tydens hierdie feeste geëer word, is dit veral Piet Retief wat groot erkenning ontvang as volksheld. Gustav Preller se bekende biografíe oor Retief (1906) gee aanleiding tot verskeie dramas, gedigte en dramatiese tablo's wat sy lewe uitbeeld, asook die gebeure wat aanleiding gee tot die Bloedriviergelofte. Terwyl die meeste dramaturge (veral Van Bruggen in Bakens: Gedramatiseerde mylpale uit die Groot Trek, 1939) fokus op hierdie volksheld en Magdalena Retief net as sy ondersteunende gade uitbeeld, plaas Uys Krige in sy drama die kollig op haar persona. Die lewensverhaal van Magdalena word uitvoerig in agt tonele en 'n epiloog uitgebeeld.
Ofskoon Afrikaans op 8 Mei 2025 honderd jaar een van Suid-Afrika se amptelike tale was, het dit, gemeet aan sy daadwerklik amptelike gebruik sedert die inwerkingtreding van die huidige grondwetlike bedeling in 1994, maar veral sedert die 1996-grondwet van krag geword het, in beduidende mate as amptelike taal verval. 'n Oorweging van die vyf belangrikste gebiede van die amptelike gebruik van 'n taal bring telkens aan die lig dat Afrikaans sy amptelike gebruik grootliks prysgegee het. Dit is naamlik die aanwending van taal vir die doel van (1) (nasionale) wetgewing; (2) die amptelike notulering van hofverrigtinge; (3) staats-administrasie; (4) polisiëring; en (5) openbare onderwys. Die amptelike gebruik van Afrikaans en die ander amptelike tale het geswig voor die voorkeurgebruik van Engels as gevolg waarvan Engels wesenlik Suid-Afrika se enigste daadwerklik amptelike taal geword het. Die deurslaggewende rede hiervoor is die huidige regering se politiek van transformatisme, veral aangedryf deur die beginsel van verteenwoordigendheid. Hierdie toedrag van sake is juridies moontlik gemaak deur die treffend diskresionêre aard van die ampteliketaalbepalings vervat in artikel 6 van die Grondwet. Die bepalings word transformatief vertolk en het tot 'n wesenlik eentalig Engelse ampteliketaalbedeling gelei. Hierdie verskynsel strook met wat elders in Sub-Sahara-Afrika gebeur het waar die eertydse postkoloniale administrasies telkens voorkeur gegee het aan die koloniale tale - Engels, Frans en Portugees - bo die Afrikatale.
In hierdie bydrae ondersoek ek die vraag waarom daar nie gehoor gegee is aan die aanbevelings rakende vervolgings soos vervat in die verslae uitgereik deur die Zondo-Kommissie van Ondersoek na Staatskaping nie. Ek gebruik talle gesigspunte soos vervat in die post-Marxistiese literatuur oor Konflikkriminologie, veral Reiman en Leighton (2020) se Pyrrhus-nederlaagteorie wat sentraal staan in hierdie benadering, om hierdie probleem te ondersoek. Die posisie in China word ook vlugtig onder die loep geneem. Die gevolgtrekking waartoe ek kom, is dat daar heelwat raakpunte bestaan tussen staatskaping, soos deur die Zuma-Gupta kabaal bedryf, en 'n post-Marxistiese lees van misdaad in 'n fel besits- en inkomsteongelyke gemeenskap soos Suid-Afrika. Daarby kom dit voor of die nasionale vervolgingsgesag, gesien in die lig van die voortdurende voortbestaan van die betrokke kriminele kringe ná Zuma se verwydering, na alle waarskynlikheid self gekaap is.
Suid-Afrika word gekenmerk deur beduidende ongelykheid in inkomste en gesondheidsuit-komste. Heelwat huishoudings staan voor 'n dubbele las van wanvoeding, waar oor- en ondervoeding saam voorkom. Hoewel die voorkoms van hongerte die nuus haal, is die grootste bedreiging vir gesondheid in Suid-Afrika nie-oordraagbare siektes wat met vetsug geassosieer word, naamlik hipertensie, koronêre hartsiekte, beroerte en diabetes. Hierdie artikel poog om veranderinge in oorgewig en vetsug, en sosiale mobiliteit in Suid-Afrika te ondersoek. Die ontleding gebruik data van die gebalanseerde paneel van die eerste drie golwe van die National Income Dynamics Survey (NIDS). Ordinale logistiese regressiemodelle en oorgangsmatrikse is gebruik om die bewegings tussen liggaamsmassa-indeks-kategorieë en sosiale klasse te beskryf. Die resultate toon dat daar 'n waargenome positiewe verband is tussen respondente wat van 'n laer sosiale klas na 'n hoër sosiale klas beweeg het, en 'n toename in liggaamsmassa-indeks.
In hierdie artikel word ondersoek ingestel na die vertaling van Long way down deur Jason Reynolds as Lang pad onnetoe deur Nathan Trantraal. Die vertaling is besonder goed ontvang en die UJ-prys vir Vertaling van Jeugtekste is in 2021 daarvoor aan Trantraal toegeken. Aangesien die sukses van die vertaling onder meer toegeskryf word aan die gebruik van Kaaps, word die geskrewe tradisie van Kaaps nie, maar ook die heterogene aard daarvan bekyk. Vertaalteoreties word polisisteemteorie betrek en aandag word ook gegee aan aspekte soos die (on)sigbaarheid van die vertaler en die vertaalstrategieë bekend as domestikering en vervreemding. Die konsep vertaalhabitus word ondersoek en op Nathan Trantraal van toepassing gemaak. Vervolgens word uittreksels uit die bron- en doelteks met mekaar vergelyk. Daar word aangetoon dat Lang pad onnetoe vanuit polisistemiese benadering uniek is aange-sien 'n gevestigde vertaaltradisie in Kaaps nie bestaan nie en daar min literêre tekste in Kaaps is. Na verwagting sou die vertaling 'n randposisie in Kaaps inneem. Die vertaler skep - in teenstelling met die voorspelling dat die vertaling grootliks die brontaal en -kultuur sal weerspieël - 'n vertaling wat aan die kulturele norme van die teikenstelsel voldoen. Die vertaler is sigbaar, maar terselfdertyd word deurlopend van 'n domestikerende vertaalstrategie gebruik gemaak. Domestikerende vertalings wil gewoonlik die indruk skep dat die vertaling 'n oorspronklike teks is. In Lang pad onnetoe is dit nie die geval nie en die rede is tweeledig: Nathan Trantraal se vertaalhabitus en die gebruik van Kaaps.
Die toenemende integrasie van digitale tegnologie het die afgelope dekades beduidende verskuiwings in onderrig- en leerpraktyke in hoër onderwys teweeggebring, insluitend in die opleiding van onderwysers. In Liggaamlike Opvoeding-onderwysersopleiding het hierdie ontwikkeling veral gemanifesteer in 'n groeiende fokus op afstands- en aanlyn onderrig. Ten spyte van die potensiaal van hierdie onderrigvorm, dui bestaande navorsing daarop dat daar steeds pedagogiese en praktiese uitdagings bestaan. Die doel van hierdie studie was om deur middel van 'n kwalitatiewe sistematiese literatuuroorsig beste praktyke en kernuitdagings in afstands- en aanlyn Liggaamlike Opvoeding-onderwysersopleiding te identifiseer en te interpreteer. Die studie is teoreties begrond in die Transaksionele Afstandsteorie, in samehang met 'n sosiaal-konstruktivistiese perspektief. Die oorsig is uitgevoer volgens die PRISMA-riglyne en het sistematiese soektogte in geselekteerde EBSCOhost-databasisse asook Scopus en Google Scholar ingesluit. Studies wat tussen 2002 en 2024 gepubliseer is en gefokus het op die ervarings van studente en dosente in tersiêre afstands- of aanlyn Liggaamlike Opvoeding-onderwysersopleiding, is in ag geneem. Metodologiese gehalte is beoordeel aan die hand van die CASP-kontrolelys waarna 'n tematiese sintese gevolg het. Uiteindelik is 17 studies wat aan die seleksiekriteria voldoen het, ingesluit. Twee oorhoofse temas het na vore gekom, naamlik die voordele en goeie praktyke van afstandsonderrig, asook die uitdagings wat daarmee gepaard gaan. Bevindinge dui daarop dat buigsaamheid, selfgerigte leer en toeganklikheid van leerinhoud positief ervaar word, terwyl effektiewe tegnologiegebruik en die doelgerigte aanwending van kwaliteitvideo's as betekenisvolle pedagogiese praktyke geïdentifiseer is. Daarteenoor het onvoldoende praktiese blootstelling, tegnologiese beperkings, beperkte sosiale interaksie en gebrekkige terugvoer die leerervaring negatief beïnvloed. Die studie bevestig dat doelbewuste kursusontwerp, pedagogiese beplanning en sinvolle dialoog steeds sentraal staan tot Liggaamlike Opvoeding-onderwysersopleiding van goeie gehalte in afstandsmodus. Die studie bied ook riglyne vir toekomstige module-ontwikkeling in hierdie konteks.
Tydens 2024 het talle verkiesings wêreldwyd in talle toonaangewende state plaasgevind, inbegrepe die VSA, Indië, Rusland, Maleisië, Verenigde Koninkryk en talle Afrikastate, waaronder Suid-Afrika. Ongeag voorspellings tot die teendeel het die 2024-verkiesing as 'n reuseskok vir die ANC-regering gekom - toe reeds 30 jaar aan bewind met meerderhede in alle provinsies met die uitsondering van die Wes-Kaap. Met net 40,13%-steun op nasionale vlak was dit duidelik dat 'n nuwe fase in die Suid-Afrikaanse politiek betree word. Die sentrale doelstelling van hierdie navorsing is om 'n politieke omgewingsverkenning te doen van strategiese faktore, in die besonder die impak van die 2024-verkiesingsuitslag op die huidige bestei in Suid-Afrika, en om dit af te sluit met enkele toekomsgerigte perspektiewe. Die studie is kwalitatief van aard, maak gebruik van konteksanalise en interpretasie (op grond van 'n breë analitiese raamwerk), met as brandpunt die aanloop tot, en die verloop en afloop van die verkiesing en die implikasies daarvan vir die huidige politieke bestel in Suid-Afrika.
Selfgerigte leer verskuif die fokus van onderwyser- na leerdergesentreerde onderrig, wat leerders bemagtig om hul eie leerbehoeftes te identifiseer, doelwitte te stel, hulpbronne te kies, leerstrategieë te implementeer en oor vordering te besin. Die tegnologiese vooruitgang in die onderwys het oorvloedige kennisbronne aan taalleerders beskikbaar gestel, wat die behoefte om selfgerigte leer te kweek, beklemtoon. Onafhanklike werk is 'n integrale deel van die Nasionale Kurrikulum- en Assesseringsbeleidsverklaring vir graad R tot 12 en bevorder die ontwikkeling van die vakkennis, vaardighede en waardes wat nodig is om lewensuitdagings die hoof te bied. Verder berei selfgerigte leer leerders voor vir tersiêre onderwys deur tydsbestuur-, probleemoplossings-, aanbiedings- en kommunikasievaardighede te ontwikkel. Die implementering van selfgerigte leer in die klaskamer vereis egter noukeurige beplanning en 'n verskuiwing in sowel onderwyser- as leerderrolle. 'n MEd-studie, waarop hierdie navorsingsartikel gebaseer is, is in 2024 afgehandel. Die navorsing het op die tekort aan selfgerigte leer in die graad 7-Afrikaans Huistaalklaskamer gefokus. Die studie het 'n interpretivistiese navorsingsparadigma en kwalitatiewe navorsingsbenadering gevolg. Dit het 'n literatuurondersoek, dokumentontleding van die Nasionale Kurrikulum- en Assesserings-beleidsverklaring vir graad 7-Afrikaans Huistaal en aanlyn oopeindevraelyste aan graad 7-Afrikaans Huistaalonderwysers ingesluit om die primêre navorsingsdoelwit te bereik, naamlik om onderrig- en leerriglyne saam te stel om selfgerigte leer by graad 7-Afrikaans Huis-taalleerders te ontwikkel.
Orania is 'n dorp met 'n bevolking van sowat 3 000 mense op die suidelike oewer van die Oranjerivier in die Noord-Kaapprovinsie van Suid-Afrika. Die dorp is sowat 160 kilometer suid van Kimberley, die Noord-Kaap se hoofstad, geleë. Die Afrikanergemeenskap van Orania se doelwit is groeiende selfbeskikking. 'n Eerste opvallende kenmerk is dat Afrikaans die enigste taal is wat op die dorp gebruik word, gegewe die bevolkingsamestelling. Die bevolkingsamestelling, naamlik 'n Afrikanergemeenskap, word onder meer behou deur 'n stelsel van verblyfreg toe te pas. Verblyfreg is 'n voorreg wat aan 'n aansoekproses onderworpe is. Daarbenewens beoefen die dorp selfwerksaamheid, wat in die praktyk beteken dat voorkeur gegee word aan die indiensneming van Orania se eie inwoners, naamlik diegene met verblyfreg. Persone van buite die dorp kan slegs met vooraf verkreë toestemming vir tydperke van langer as twee dae in Orania werk. Derdens is 'n koepon (die ora, of φ) in Orania in omloop. Die ora word uitgereik teen 'n koers van φ1,00 = R1,00. Aangesien die inwoners van Orania die woord ora verkies wanneer bedrae ter sprake is, word dieselfde konvensie (waar toepaslik) in hierdie artikel gebruik. Hierdie artikel brei vorige navorsing oor ekonomiese aangeleenthede van Orania uit. Beskikbare literatuur fokus hoofsaaklik op Orania se doelwit van groeiende selfbeskikking en ander aspekte van die gemeenskap. Hierteenoor is daar in die literatuur slegs 'n beperkte fokus op Orania se ekonomie en die vlakke van ekonomiese bedrywigheid. Hierdie artikel dra daartoe by om hierdie leemte in die literatuur te vul. Omvattende sensusse van die bevolking en sakebedrywighede is in Desember 2021 en vroeg in 2022 in Orania opgeneem. Hierdie sensusse het die dorp se bevolking, huishoudelike en persoonlike inkomste, en besigheidsinkomste gerapporteer. Op grond van hierdie data is die totale persoonlike jaarlikse inkomste van Orania se inwoners op Φ295 672 222 beraam, terwyl die jaarlikse huishoudelike inkomste op φ190 331 179 beraam is. Jaarlikse besigheidsomset vir 2021 is op Φ281 950 000 beraam. Ná die inkomsteberamings is 'n volgende stap die beraming van ekonomiese bedrywigheid in Orania. Dit behels die beraming van die bruto geografiese produk (BGP). In hierdie navorsing is die inkomstemetode gebruik om Orania se BGP te beraam. Die BGP vir 2021 is op φ344,7 miljoen beraam, terwyl die beraming vir 2023 Φ462,0 miljoen beloop. Hierdie syfers verskaf 'n vertrekpunt vir verdere navorsing oor Orania se vlak van ekonomiese bedrywigheid en jaarlikse reële ekonomiese groei.
Die artikel fokus eerstens op faktore wat die vitaliteit van 'n taal bepaal soos uiteengesit in 'n 2003 UNESCO-verslag. Daar is gekyk na die vitaliteit van Nederlands in die lande en streke waar Nederlands vandag gepraat word. Die taalgeskiedenis en talesituasie in Nederland, Vlaandere en Suriname word kortliks onder die loep geneem. Verdere besprekings word gebaseer op die Staat van het Nederlands-opnames wat in 2016, 2018 en 2020 gedoen is onder respondentpanele van Nederland, Vlaandere, Brussel en Suriname. Daar word ook aandag gegee aan die situasie van Fries in Friesland. Verskillende samelewingsdomeine soos kommunikasie met familie en vriende, algemene sosiale verkeer, die werksplek, kommunikasie binne godsdienstige kontekste, die media (sosiale media ingesluit), die kulturele domein, asook houdings teenoor Nederlands word bespreek. Bykomende inligting uit ander bronne is bygewerk. Ten slotte word besin oor implikasies van die resultate vir Afrikaans vandag.
Sedert Stephenie Meyer se tienerroman Twilight (2005) op die boekrakke verskyn het, het die populariteit van die bonatuurlike liefdesverhaalgenre internasionaal toegeneem en ook die Afrikaanse jeugliteratuur beïnvloed. In hierdie artikel word die spore van die Gotiek binne hierdie literêre tendens ondersoek. 'n Kernkenmerk van die bonatuurlike liefdesverhaal ("paranormal romance") is die sentrale rol wat die liefdesverhouding in die storie speel, dikwels tussen 'n jong meisie en 'n bonatuurlike wese soos 'n vampier. Die doel met hierdie artikel is om 'n gaping te vul wat tot nou toe weinig aandag ontvang het: die publikasie van Afrikaanse bonatuurlike jeugliefdesverhale. Ons begin deur die historiese skakeling tussen die Gotiese roman en die bonatuurlike liefdesverhaal aan te toon, terwyl ons Gotiese karaktertipes, soos die Radcliffe-heldin en die vampier, se kerneienskappe uitlig. Daarna word daar gefokus op die ontwikkeling van die vampierkarakter, vanaf John Polidori se The Vampyre (1819) tot by Stephenie Meyer se Twilight (2005), met spesifieke verwysing na Anne Rice se Interview with the Vampire (1976) en haar bydrae in die totstandkoming van die sogenaamde "sympathetic vampire". Vervolgens bespreek ons twee jongvolwasseromans, Twilight (2005) deur Stephenie Meyer en Elikser (2021) deur Frenette van Wyk. Daar word gefokus op die belangrikste tendense in die evolusie van karakters en verhoudings, asook die beduidendste ooreenkomste en verskille tussen die twee voorbeeldtekste en die klassieke Gotiese roman, spesifiek met betrekking tot karakters, ruimtes en temas. Spesiale aandag word gegee aan die ontwikkeling van die Radcliffe-heldin en die vampier as Byroniese held, en hoe hierdie karaktertipes in moderne vampierromans herskep word om die behoeftes en verwagtinge van 'n hedendaagse leserskap te weerspieël.
Wollerige grense tussen grammatikale kategorieë het gelei daartoe dat skoolgrammatikas bysinne oor die afgelope 100 jaar op onbevredigende wyse gekategoriseer het. Dit blyk uit die feit dat (i) bysinne wat dieselfde inleier het, en logieserwys as dieselfde soort bysin beskou behoort te word, op grond van funksie as verskillende soorte bysinne gekategoriseer is, (ii) klassifiseringskriteria nie duidelik afgebaken is tot slegs een kriterium (soos funksie) nie, maar dikwels 'n kombinasie van funksionele, sintaktiese, semantiese en/of vormlike kenmerke omvat, en (iii) die grense van verskillende subkategorieë wollerig is, omdat betekenis as kriterium gebruik word en dieselfde bysin gevolglik as een van meerdere subtipes gekategoriseer kan word. Hoewel wollerige grense nie noodwendig in die linguistiek as problematies beskou word nie, behoort die grense van grammatikale kategorieë op skoolvlak nie vaag te wees nie. Om hierdie rede fokus die huidige artikel op 'n alternatiewe, eenduidige kategoriseringsisteem vir bysinne, gebaseer op die tipe sinsdeel of woordsoort wat dit inlei. Slegs drie soorte bysinne word vervolgens onderskei, naamlik bywoordelike bysinne, komplementbysinne en betreklike bysinne. 'n Vergelyking tussen die voorgestelde drie bysinsoorte en die vyf bysinsoorte wat in die huidige onderrigleerplan voorkom (naamlik onderwerpsinne, voorwerpsinne, gesegdesinne, bywoordelike bysinne en byvoeglike bysinne) word eksplisiet getref, sodat die voordele van ons drie kategorieë, onder andere dat dit aan ál agt gestelde beginsels van 'n pedagogiese grammatika voldoen, duidelik blyk.
Die Covid-19-pandemie het opvoeders gedwing om hul onderrigmodus byna oornag aan te pas vir 'n (gemengde leer) virtuele klaskamer. Nie net is almal gedwing om aanlyn klas te gee nie, maar opvoeders moes in terme van onderrig besin oor onder meer die aard van assesserings, maniere om studentebetrokkenheid te bewerkstellig, die hoeveelheid en watter soort inhoud aanlyn geplaas moes word, ensovoorts. Ná die pandemie het gemengde leer nuwe momentum verkry en kunsmatige intelligensie het al meer prominent geraak wat die besinning oor wat en hoe en aan wie onderrig word, steeds geldig maak. Die fokus van hierdie artikel is die daarstelling van 'n onderrigmodel vir volwasse studente in spesifiek 'n laetegnologie-omgewing met die uitkoms gerig op taalverwerwing. Die model is primêr gebaseer op 'n uitgebreide literatuurstudie, die terugvoer van studente (behoefte en ervaring) in 'n Afrikaanse vreemdetaalkursus teen die algemene/ breë agtergrond van die ondersoekers se ervaring as dosente in beide aanlyn as gemengdeleerkursusse. Die voorgestelde model bestaan uit drie kernkomponente: taalverwerwing (wat), die volwassene as student (wie) en die modus van aanbieding (hoe). Die resultate van die ondersoek het uitgeloop op die daarstelling van riglyne vir elke aspek van die onderrigmodel wat betref 'n verwante uitkoms, vir studente met 'n vergelykbare profiel in 'n vergelykbare laetegnologie-omgewing.
Onder leiding van die Afrikaanse Taalraad (ATR), in samehang met vennote soos die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, die Afrikaanse Onderwysnetwerk (AON) en ander onderwys- en gemeenskapsgerigte instellings of organisasies, is daar in die loop van 2021 'n nasionale navorsingsprojek oor die stand van Afrikaans van stapel gestuur. Die motivering daarvoor was 'n omvattende Nederlandse projek ("Staat van het Nederlands") oor die stand van Nederlands, waaruit afleidings gemaak kon word oor die stand van sake betreffende verskeie belangrike taaldomeine. Hierdie afleidings kon dan vir beplanningsdoel-eindes gebruik word. Die ondersoek kan ook as 'n opvolgprojek van die destydse Voortsettingskomitee (van 'n simposium in September 2003 in Pretoria) se taaloudit oor Afrikaanse taalprojekte, verenigings en energieë in 2004 beskou word. Die 2004-taaloudit het die basis gevorm vir die uiteindelike totstandkoming van 'n liggaam wat die belange van Afrikaans tot 'n verteenwoordigende Afrikaanse stem sou konsolideer. Vir die doel van die Afrikaanse ondersoek is daar besluit om op vyf domeine te konsentreer, te wete Afrikaans in die ekonomie, Afrikaans in die gesondheidsektor, Afrikaans in die regspraak, Afrikaans in die godsdiens en Afrikaans in die onderwyssektor. Die agtergrond vir die keuse van hierdie domeine word in die artikel verskaf en gemotiveer. Die doel van hierdie artikel is die toeligting en verduideliking van die proses van die ondersoek na Afrikaans in die onderwyssektor. Die historiese en sosio-politieke konteks wat aanleiding tot die ondersoek gegee het, word geskets. Die keuse van die vyf domeine word gemotiveer. Dan verduidelik die skrywers hoe 52 sleuteltemas, wat ten doel het om 'n navorsingsregister oor Afrikaans in die onderwyssektor te vorm, geïdentifiseer is. Die temas word daarna opgenoem en kortliks toegelig.
Die begrip dekolonialisering en verwante begrippe soos kolonialiteit, kolonialisme, dekolonialiteit en postkolonialiteit word gewoonlik met verwysing na die oorspronklike inheemse mense van voormalige kolonies in die Globale Suide gebruik, dus in verband met diegene wat op die een of ander manier sedert die laat 1400's aan die ontvangkant van kolonisering (en apartheid) was. Die vraag is of wit Afrikaanssprekendes op dieselfde manier kan dekolonialiseer as hulle landgenote wat voorheen onder kolonisering en apartheid deurgeloop het. Die ondersoek lei tot die gevolgtrekking dat wit Afrikaanssprekendes nie ten volle en sonder meer in staat is of sal wees om op presies dieselfde manier te dekolonialiseer as hul landgenote nie. Om hierdie rede word aanbeveel dat hulle 'n ander benadering tot dekolonialisering / dekolonialiteit sal volg, naamlik om te volhard met 'n eie unieke vorm van oorgrensdenke en met 'n strewe na sosiale gelykheid en wederkerigheid. Daar word ook aanbeveel dat hulle die uitvoering van hierdie twee stappe as 'n morele imperatief sal beskou omdat hulle dieselfde lot as hulle landgenote deel. Daarmee kan hulle meewerk aan 'n nuwe toekoms vir hulle land, die verdelingslyne van die verlede help oorbrug, begrip toon vir die sorge en moontlikhede van diegene aan die ander kant van die rasse-, etniese, kulturele en selfs geslags- en gendergrense, omgee vir diegene in nood, en 'n handreiking doen soos en waar nodig.
Teodisee verwys na die uitdaging wat moeilike omstandighede en lyding aan mense stel wat kies om te glo in 'n God wat regverdig, almagtig, liefdevol en goed is. Hoe kan geloof in die bestaan van God, wat by magte is om enigiets te doen en lief is vir mense, versoen word met boosheid wat veroorsaak dat mense ly? Die artikel ondersoek die dilemma wat teodisee spesifiek aan Pentekostaliste stel. Die meeste glo die Bybel leer dat God gelowiges uit lyding red en hulle gesond en voorspoedig maak. Hoe reageer hulle op lyding? Die artikel bied dan 'n alternatief, gebaseer op die ontwerp van 'n hermeneutiek wat aansluit by hoe vroeë Pentekostaliste die Bybel gelees het. Dit beskou die essensie van God as 'n misterie wat buite mense se verwysingsraamwerk val en stel gelowiges in staat om sin te maak van lyding, onder andere deur op ander lydendes te konsentreer eerder as om slegs op hul eie omstandighede te konsentreer. Die artikel benut 'n vergelykende literatuurstudie vir die navorsing.